Showing posts with label kortverhaal. Show all posts
Showing posts with label kortverhaal. Show all posts

Saturday, 24 February 2024

Die Hofdatum

 


Na vandag gaan dit te laat wees vir my om terug te kyk en te wens dit was anders. Vandag is die laaste stap in die deurvoering van die besluit wat ek amper ses maande gelede geneem het. Om te skei van die man met wie ek die afgelope 23 jaar ‘n geleende bed deel.

 Ek kyk in die spiel en sien ‘n vrou wat goed lyk vir haar jare. ‘n Eienskap wat ek van my ma gekry het. Een van die vele wat sy uit haar liefde aan my oorgedra het. En ek verbeel my ek sien hom in die gang agter my verbyloop. Ek vlieg om – maar daar is natuurlik niks. Net soos daar gister en eergister en die dag tevore ook niks was nie. Jare se gewoonte lewe eis sy tol.

Ons huwelik was maar altyd een van flardes geluk. Saamgeweef deur ‘n liefde wat in elk geval meer onwaarskynlik as vatbaar kon wees, en bymekaar gehou deur hierdie band asook die band wat twee kinders tussen mense smee. Jonk en naïef het ek geglo dis suiwer liefde. Nou weet ek dit was 10% liefde en 90% deursettingsvermoë. Van ons albei se kant af.

Ses maande terug had ek besluit dis nou genoeg. Ek is nie meer lus om te werk aan my geluk nie, ek was net nie meer lus nie. In 23 jaar word daar baie dinge gesê, gesnou, vergewe en onthou. 23 jaar. Dis ‘n leeftyd.

Nee. Dis nie die gedagtes waarmee ‘n mens ‘n dag soos hierdie moet begin nie. Nostalgie is iets waarmee Hollywood geld maak. Dit bring nie geluk nie. Dit kleur die werklike herinneringe net ‘n sagte, wasige pienk, terwyl die werklikheid nog net so grou daaronder skuil.

Ek staan op en kry my karsleutels. My afspraak in die hof is vroeg: 9:00 die oggend. Hierdie oggend. Oor ‘n halfuur moet ek my liefde vir die man wat 23 jaar lank al sukkel om op te staan, afsweer en verraai – soos ‘n Judas, of nog erger: ‘n Petrus.

Hy het niks gesê toe ek hom meedeel van my planne om hom te verlaat nie. Hy het opgekyk en weer afgekyk. Ek het my hande in die lug gegooi van frustrasie. As hy tog maar net iets wou sê! Wou doen. Wát, gee ek nie voor om nie. Enigiets is beter as hierdie still aanvaarding van die noodlot. Maar net voor ek verwoed omdraai om die alewige skottelgoed te gaan was, merk my oog iets anders aan die man wat daar sit. Sy trotse skouers hang tog skielik ‘n bietjie en ‘n blink spoor hardloop van sy oog na sy ken. Maar sy lippe het geslote gebly. Geslote soos die NG kerk se raadsvergaderings en die regering se koskas. Ek het omgedraai en die skottelgoed gaan was.

By die hof soek ek so na as moontlik stilhouplek. Hy is alreeds daar. Netjies, soos altyd, en hy het so ewe vir my ‘n plekkie gehou naby die deur. En terwyl ek nader ry en ek hom so sien: onafhanklik, manlik en trots, kry ek ‘n knop in my keel. Maar ek sluk maar vinnig en bid die kalmeerpil begin werk voor di tons beurt voor die regter is.

En toe dit ons beurt voor die regter is, kon ek nie die woorde uitkry nie. Ek kon nie my liefde – ons liefde – verloën nie. Die flardes geluk het my dagboek volgemaak, en die onwaarskynlike liefde was daar, nog net so sterk soos toe ons destyds moes trou. Ek het van die getuiebank afgeklim, ‘n verskoning gemompel en die hof so vinnig my twee bene my kon dra, verlaat.

Toe ek buite kom en die son teen my gesig voel, haal ek vir die eerste keer asem. En hy was daar. Hy het gewag vir my, en ten spyte van alles, was sy arms oop om my te ontvang. Hy het my vasgehou asof hy my nooit weer wou los nie, my nooit weer sou toelaat om te gaan nie, en die blink spore op sy wange was genoeg woorde vir my.


Tuesday, 23 March 2021

Buite Tyd

 


Die skraal figuur kniel voor die nuut-gekerfde eikehout dubbelbed. Lang swart hare val soos ‘n waterval oor haar rug en omvou haar skouers soos ‘n kombers. Haar lang vingers is inmekaar geweef en soos ‘n hart wat klop, pers hulle saam en ontspan, soos wat haar prewelende versoeke in ‘n onhoorbare fluisterstem afwissel met dringende pleidooie en diep dankbaarheid. Nou en dan ontsnap ‘n sagte lofgesang haar rooi lippe, en kort-kort biggel ‘n traan of twee oor haar bloesende wange.  

Elke nag kniel die skraal figuur geklee in haar lang, wit moeselin nagrok, in gebed en elke nag bid sy: “Here my God, ek dra my kinders aan U op. Ek bring voor U troon my kinders, en hulle kinders, en hulle kinders se kinders – en ek vra dat U hulle sal beskerm en sal bewaar en bo alles, dat U hulle siele sal red van die verderf…”

Om haar staan twee rye engele. Hulle verblindende wit vlerke, versier met gelouterde goud, vorm ‘n ondeurdringbare muur. Een ry engele kyk na binne, hulle hou hande vas, hulle hoofde is geboë en hulle oë gesluit terwyl hulle saam met haar bid. Die ander ry engele kyk buitentoe, hulle oë wawyd oop. Met hulle glimmende twee-snydende swaarde en groot, gloeiende skilde is hulle gereed vir oorlog.

Anette slaap rustig alleen op haar massiewe, antieke dubbelbed. Haar seuntjie, ‘n skamele 2 jaar oud, slaap in die kamer langsaan. Dis net hulle 2 in die huis. Haar man werk weg vir ‘n rukkie, maar sy is gewoond daaraan. Dis nou maar deel van sy werk, wat kan mens nou maak? Inelkgeval, daar was nog nooit voorheen insidente nie, en sy is buitendien nie bang nie. Sy is ‘n sterk vrou, groot oë, groot beenstruktuur, en alhoewel haar glimlag ‘n hele vertrek kan ophelder, kan haar tong enigiemand sny tot op die grootte wat sy hulle wil hê. Nietemin, net vir ingeval, lê daar ‘n gelaaide vuurwapen op die bedkassie.

Haar man wou hulle nie alleen los nie. Hy het gevra dat hulle saam met hom kom, maar sy het volstrek geweier. Sy is ‘n vrou in haar eie reg en ten spyte van haar ma se vele aanmanings, weier sy om “onderdanig” te wees. Bid jou aan, ‘n vrou met haar kwaliteite en ervaring sommer net so alles los  - en dit vir ‘n man!

Buitendien, wat sal haar vriendinne van haar dink? Na jare se inwurm is sy uiteindelik deel van die uitgesoekte kring dames – ‘n besonderse, invloedryke groep vrouens wat onafhanklik en met ysterhande in satyn-handskoene, hulle huishoudings rigied regeer en stuur in die rigting wat vir hulle nog meer mag en status sal verleen. Vertel die Bybel dan nie self die storie van die perfekte vrou in Spreuke 31 nie? Sy was ‘n vasvatvrou, ‘n besigheidsvrou. En inelkgeval, elke byeenkoms – of dit nou net ‘n tee-drink is, of formele funksie – word geopen en afgesluit met gebed.

‘n Geritsel in die gras laat Anette wakker skrik. ‘Dalk het ek my net verbeel,’ dink sy, en lê doodstil, haar oë wawyd oop. Nog ‘n geritsel. Nog een. Sy hou haar asem op. Die geritsel beweeg nader aan haar venster en ‘n onbekende koue vrees gly teen haar rug af. Soos digte mis sprei die vrees en verdof haar gedagtes, omklem haar hart en begin haar wurg. Sy weet sy moet bid, maar sy kan nie. Die woorde wil nie vorm nie, en haar tong is gevries.

Die gedagte aan haar seuntjie oorwin die vrees en sy seil versigtig en so saggies as wat sy kan, teen die bed af en kruip saggies oor die vloer. Maar sy verstar toe die skaduwee van ‘n man reg teen haar venster op die gordyn val. ‘n Tweede skaduwee verskyn en toe ‘n derde. Haar hele lyf ys. Sy kyk magteloos hoe hulle die venster sny en hulle hulle hande deur die gat druk en vat-vat op soek na handvatsel om die venster oop te maak.

Daar, in die middel van haar slaapkamer vloer, in haar bypassende stel egte sy slaapklere, haar stylvolle kort swart kapsel nou roekeloos verward, besef sy die werklikheid van haar situasie… Sy en haar seuntjie is weerloos, magteloos, oorgelaat aan die genade van die onbekende mans wat besig is om by haar huis in te breek. Terwyl die vrees haar keel toedruk, hoor sy ‘n sagte fluisterstem in haar kop, ‘Bid.’

Die enkele woordjie smelt ‘n stukkie van haar vrees-gevriesde lyf, en sy kyk na die wapen op die bedkassie. Sy oorweeg vir ‘n oomblik om die wapen te gaan haal, maar asof vanself draai haar lyf om en bevind sy haar op haar knieë. En asof vanself, vou haar hande saam en sy begin onhoorbaar sag onbekende woorde prewel.

Die engele in die vertrek kyk na mekaar en knik goedkeurend. Die een met sy arms om haar lyf staan stadig regop, sy hande half uitgesteek na haar toe, gereed om weer te keer as sy probeer opstaan. Maar sy bly op haar knieë. Die een wat haar hande saamgevou het, kniel steeds saam met haar, sy hande beskermend om hare. Oudergewoonte, vat die ander engele hande en vorm ‘n kring rondom haar, hulle hoofde geboë en oë gesluit terwyl hulle saam met haar bid. ‘n Tweede ry engele staan wag rondom hulle, hulle glimmende swaarde en gloeiende skilde gereed vir oorlog.

‘n Paar minute later raak die woorde in haar stil. Haar oë is steeds toe, maar dis asof ‘n lig in die kamer skyn. Skielik is die lig weg, en die vertrek voel koud en donker. Meteens onthou sy weer van die inbrekers, maar toe sy opkyk was hulle weg. Sy spring op en hardloop na haar seuntjie se kamer toe. Flitse van die afskuwelikste goed speel voor haar af. Met ‘n hart wat klop asof dit uit haar bors wil breek, ruk sy die kamerdeur oop.

Maar haar kind lê doodrustig en slaap, ongestoord en onbewus van die krises wat hom sopas afgespeel het. Sy sak inmekaar teen die deurkosyn, en trane van verligting rol vrylik oor haar wange. Sy maak haar oë toe, maar in plaas van donkerte, is dit weereens asof ‘n lig in die kamer skyn. Sy maak haar oë oop, maar dit is so donker soos tevore.

Die engele om die kind glimlag vir mekaar – hulle het dit al duisende kere gesien: die ouer wat rasend van bekommernis op hulle kind afstorm, onbewus van die teenwoordigheid van die laer engele om die kind. Hulle helder vlerke gloei verblindend en oorvleuel so dig dat jy nie eens die kindjie kan sien nie. Hulle kyk op na die gesig van die Vader en Hy knik goedkeurend.

Anette loop stadig terug na haar kamer toe. In haar kop probeer sy ontrafel en verstaan wat nounet gebeur het, maar niks maak sin nie. Sy gaan sit op haar bed wat sy by haar ma ge-erf het. Haar ma het dit by haar ma ge-erf en die weer by haar ma. Dis handgekerf uit ‘n massiewe eikehoutboom deur haar pa as ‘n trougeskenk vir haar. Sy maak haar bedkassie se laai oop en haal ‘n geel-verweerde foto daaruit. Dis ‘n foto van haar oumagrootjie en dit was in die Bybel wat sy saam met die bed ge-erf het. Die Bybel was in Hollands, so die staan op die boekrak in die eetkamer. Haar eie Bybel lê ook in die laai. Sy kan nie onthou wanneer laas sy dit gelees het nie. Haar kop sak in skaamte. Sy kyk weer na die foto, en skielik sien sy iets wat sy nog nooit voorheen gesien het nie…

Op die foto kniel haar oumagrootjie langs die einste bed, haar lang swart hare val soos ‘n waterval oor haar rug en vou soos ‘n kombers om haar skouers. Haar lang vingers is inmekaar gevleg. Maar agter haar is ‘n helder skynsel van lig. Anette het dit nog altyd net as oorblootstelling van die film afgeskryf. Maar vanaand lyk die lig op die foto anders, amper bekend. Sy bring die foto nog nader en terwyl sy dit aandagtig bestudeer, roer die herkenning in haar hart.

“Maar dis dan dieselfde lig!” roep sy verbaas uit, en haar oë rek toe sy besef wat dit werklik beteken.  

Met trane wat oor haar wange stroom, sak sy op haar knieë langs die bed neer, weef haar vingers inmekaar en gee haar oor aan die Almagtige God.

En terwyl die kamer vul met ‘n helder, warm lig, vat die engele weer hande.

Wednesday, 17 February 2021

Om asem te haal


Die kerslig flikker deurmekaar in die donker kamertjie, amper op die ritme van haar bewende hand terwyl sy die pen onder beheer probeer bring. Dis 'n donker nag. Nuwemaan. Ironies dat hulle dit nuwemaan noem - die donkerste verdwyning van die einde van die maan. Sy probeer haar gedagtes fokus op die brief voor haar. Hoe sê mens dit? Dis so finaal? Sê nou daar is nog 'n kans? Sê nou, ek is oorhaastig? Die kerslig flikker weer en die skadu's teen die muur dans ritmies saam. Haar pen huiwer. Die kinders begin giggel in die slaapkamer. Sy wag. Daar giggel hulle alweer! Sy stem weergalm in haar ore: "Daai kinders van jou is besig om my gek te maak!"

Doelbewus staan sy op en gaan haal die belt. Hoekom is dit so moeilik vir hulle om hulle samewerking te gee? Hoe moeilik is dit om soet te wees? Sy ken die antwoord. Jare van sielkundige manupilasie en swaarkry en Bybelversies het haar al genoeg kennis gegee om enige sielkundige of predikant aan te vat - en te wen. Maar nou moet hulle eers stil. Haar hart breek toe die houe val. Houe wat haar bewende hand toedien. Haar mond praat gevaarlik sagte woorde van waarskuwing. Die kinders - haar kinders - sluk die trane weg, sluk die huil weg, terwyl hulle haar saggies snikkend met fluisterstemmetjies antwoord. 

Terug by die lessenaar tel sy die pen weer op. Die kers se vlam is skielik stil. Sy staar na die vlam, amper asof sy wysheid, insig, raad, iets soek om leiding te gee. Verdomp!! Dis 'n vlam, waarom gee dit nie die weg aan nie? Die knop in haar keel ruk haar dwalende waansin terug na die leë papier voor haar. Wil ek nog? Nee. Ek wil nie. 

Ek sal nie. Ek kan nie. Ek kan nie! Ek kan nie meer nie! Die knop bars oop en 'n enkele traan biggel oor haar wang. Vies vee sy dit af, want as sy dit los, dink die ander trane dalk ook dat hulle maar uit hulle tronk kan kom. Haar brein begin weer oortyd werk. Die pro's en cons, vir die duisendste maal draai dit deur haar kop. Sy hoef nie eers meer daaraan te dink nie, dis al ingeprent van al die oor en oor probeer om daardie verdomde venster te kry nadat die deur so genadeloos, so verskriklik wreed, toegeslaan is. Maar sy kry dit nie. 

Die tweede, derde, vierde traan rol teen haar wang af, oor haar neus, en dam onder die bril se raam saam. Sy sit die pen neer en vee haar bril eers droog. maar die waas wil nie verdwyn nie. Spyt kom altyd te laat, sê hulle. Hulle is verkeerd. Spyt is altyd net betyds om jou tevang voor jy gelate jou dwaasheid aanvaar. Die kers flikker weer en sy ruk uit haar beswyming uit.

Wat soek ek hier? Die vraag - retories - wag vir 'n antwoord. Sy lig weer haar pen op. Sy teken 'n hartjie. Janee, dit is wat ek soek, sug sy in die skemerlig van die dansende kers. Die blare ruis in die groot akkerboom buite die venster. Sy kyk op en kyk die duisternis in. Skielik ruk die wind die kersvlammetjie dood en sy is gehul in 'n onbekende nag. Die bang vir die donker wat wegkruip in die kind binne almal van ons, knyp skielik haar boud en sy wil net opspring. 

Die vraag kom vanself: Wat kan erger wees daarbuite as wat ek het hier binne? Die knyp sluip gedwee terug na die duisternis waar dit vandaan gekom het. Sy kyk die nag aan, uitdagend, vreesloos, skielik kalm. Kom haal my, dink sy, terwyl sy wag om 'n sekel voor haar te sien. 

"Kom haal my," prewel sy sag. Mens tart darem nou ook nie die noodlot nie. In haar hart begin die vrees bons, Wat as dit my hoor? Sê nou, sê nou iets gebeur regtig? Haar handpalms begin skielik sweet, die boom se blare ritsel harder en harder, haar oë soek naarstiglik deur die vae donkerte. Skielik vlieg sy uit haar stoel en pluk die gordyne toe. Maar voor die laaste entjie lap die nag kon uitsluit sien sy iets glim in die maanlig wat nie skyn nie. Haar hart ys.

Die bloed syfer weg van haar ledemate af na haar hart toe. Sy word bleek, haar pupille vergroot terwyl sy die gordyn wegtrek om te kyk na dit wat sy gesien het. Maar dit was weg. Tog, daar is iets in die tuin onder die boom... daar staan iets, so deurskynend soos die nag, so onsigbaar soos jou verbeelding, maar tog so werklik, 'n teenwoordigheid. Dit staan net daar - doodstil. En kyk na haar. Sy kyk terug. 

Skielik besef sy dit wag vir haar om te kies. Sy kan kies. Sy kan gaan en dit sal haar vat. Of sy kan bly. En dit sal weggaan tot sy dit weer roep. Haar kinders se gesiggies flits deur haar brein. Die kloklaggies, die huil, die armpies wat soos bobbejaantjies om jou nek vasklou, die simpel grappies... Sy laat sak haar kop en los die gordyn. Die lap maak die venster toe en die teenwoordigheid huiwer nog 'n rukkie voor dit pad vat terug na waar dit ook al vandaan kom. "Ek wil my kinders sien grootword," prewel sy verskonend. 

Stadig gaan sit sy op die stoel en bêre die pen en leë papier. Dalk moet ek net harder bid, meer liefde gee... Ek moet net harder probeer. 

Sy hoor nie die voetstappe agter haar nie. Sy sien nie die skerp glim van die slagtersmes bo haar kop nie. Die skielike beweging van sy arm laat haar kop omruk net toe die lem deur nek gly. 

Sy voel die warm bloed teen haar nek afloop en oor haar borste stroom, haar oë val-val toe. Sy sien sy gesig - gevoelloos, soos sy hart, sy dade, sy siel. 'n Laaste traan huiwer op haar wang. Haar kinders se gesiggies weerkaats daarin voordat in 'n duisend druppeltjies op die vloer breek. Net voor haar oë sluit, hoor sy 'n stem, veraf, maar vol gesag... "Dis nie jou tyd nie"...

Toe sy weer haar oë oopmaak lê sy in 'n spierwit kamer. Haar lyf voel anders, amper ligter, haar oë kyk maar sien nie. Sy knip-knip om die waas weg te kry. Sy draai haar kop. Sy sien die drie gesiggies wat afwagtend na haar kyk en haar mondhoeke krul op. 

"Mamma!" 

En in die omhelsing van bobbejaanarmpies haal sy weer skoon asem.

Tuesday, 7 May 2019

Weggooi-Ma



Haar oe kyk stip voor haar. Sy bring die koppie drinkgoed stadig, outomaties na haar bloedrooi, perfek omlynde lippe. Dit moet warm wees, want sy gee n fyn rukkie, haar tong streel oor haar lippe en haar oe is vir ‘n oomblik teruggeruk van waar sy ookal was. Die hande wat die koppie vashou, het al gewerk. Dit is goedversorgde hande, maar dis duidelik dat hulle gereeld skottelgoed en klere gewas het. Daar is geen ringe aan die vingers nie en daar op die linker ringvinger is nie eers ‘n verbleekte plekkie wat dalk kon aandui dat daar eens op ‘n tyd een was nie.

Sy sit die koppie op die piering neer, en klad haar lippe met die servet. Haar oe bly tuur na die vergange herinneringe wat in haar geestesoog op die muur voor haar afspeel. Daar is fyn plooitjies om haar oe en om haar mond. Sy is dalk nie oud nie, maar sy ook nie gister gebore nie. En al lyk dit nie vandag so nie, weet haar mond en haar oe hoe om die pad van ‘n lag te stap.

Ek kom elke dag na hierdie kafee toe om na haar te kom kyk. Sy kom elke dag hier iets drink. Op dieselfde tyd, winter of somer, vir die afgelope 5 jaar al. Ek beplan vakansies rondom hierdie oggend ritueel. Vir wat sal ek nou soveel moeite doen vir ‘n vreemdeling? Vra jy. Wel, die vreemdeling is my dogter. Ek het nog net nie die moed gehad om dit vir haar te se nie. Ek kry skaam omdat ek haar soveel jare gelede vir iemand anders gegee het om groot te maak. En ek vat liewer die afstand kuier in die kafee, as om haar nooit weer te sien nie.

Ek was 15. Heeltemal te jonk en heeltemal te onafhanklik vir my eie gesondheid. Die rebel van die familie, slim genoeg om met min leerwerk onderskeidings te kry, en mooi genoeg om nooit ‘n gebrek aan geselskap te he nie.

Sy naam was Jacques. En sy rollende spiere was net so aantreklik soos die sjokelade bruin oe en sonverbleikte hare wat in die wind gewaai het wanneer hy rugby speel. Hy het een middag na oefening met my begin gesels en ons geselsies het baie vinnig in fisiese gesprekke ontaard. Hy was my eerste… en ook my laaste vir baie jare daarna. Toe ek agterkom ek is swanger, moes ek my ma vertel en is onmiddelik na ‘n tehuis vir ongehude moeders gestuur en die aanneming van die kind is vinnig gereel. Vinnig en stil.

Sy is gebore op 14 Februarie. My liefdeskind. Gebore op die dag van die liefde.

Hulle het haar vinnig weggevat – ek het tot die volgende oggend in my kussing gehuil, want al wat ek wou he, is om haar net een keer te kon vashou. Hulle het gese dis beter dat ek haar nooit sien nie.
Twee dae later is ek ontslaan. Ek is in ‘n ander skool ingeskryf en het matriek klaargemaak. Daarna het  ek  weggeloop. Ek kon my ma nie in die oe kyk nie. Vir wat sy aan my gedoen het, en omdat ek dit toegelaat het.

Ek het ‘n goeie werk gekry, ‘n kerel het weer belanggestel en my lewe het uiteindelik rigting gekry. Kort voor lank was ons getroud, ek het nog twee kinders gehad en het na elke bevalling die hele nag omgehuil. My arme, dierbare man het gedink dit was van uitputting en pyn… ek het hom nooit vertel van my verlore dogtertjie nie.

Nog ‘n dekade het gekom en gegaan. En eendag sien ek ‘n advertensie in ‘n koerant van iemand wat jou help om jou kinders/ouers op te spoor. Ek het hulle gekontak en omdat my geval in erkende instansies plaasgevind het, kon hulle my dogtertjie vinnig opspoor. Hulle het haar gekontak en sy het ingestem om my te ontmoet. Ons moes 5 jaar gelede in hierdie einste kafee ontmoet het… Maar toe ek haar sien, het my moed my begewe. Hoe verduidelik ek na al die jare? Wat gaan ek doen as sy my weggooi? Ek weet ek verdien niks minder nie. Ek het stil-stil by die kafee ingesluip en by ‘n tafel gaan sit waar ek haar mooi kon dophou.

Na sowat ‘n uur se wag, het sy opgestaan en geloop. Sy was teleurgesteld, en ‘n traantjie het in haar oe geglinster. En onder haar asem het sy vir die tafel gese: ek sal terugkom tot sy kom. En sy het.
Die volgende dag toe ek by die kafee kom, was sy nie daar nie. My hart het yskoud geword toe ek gaan sit by my tafel. Ek het bly staar na die lee sitplek waar sy altyd sit. Die kelnerin het my bestelling gebring sonder dat ek daarvoor gevra het. Die koffie het koud geword. Ek het later my kop op my bors laat sak en probeer om die trane weg te steek. Het sy dan nou besluit om op te hou wag?
Skielik het ek ‘n hand op my skouer gevoel. Ek het gedag dis die kelnerin wat goedhartiglik wil weet of ek okay is. Ek het haar weggewaai sonder om te kyk.

“Ma?” Dit was sag. So verskriklik sag. Ek het eers gewag, se nou ek het my verbeel.
“Ma? Jy is mos my ma?” Ek het opgekyk in die blouste blou oe, en daar was ook trane in.
“Jy is mos my ma?” het sy weer gevra. ‘n Skielike onsekerheid het agter haar blou oe posgevat. Ek wou dit met alle mag keer.
“Ja, ja, ek is. Ek is jou ma,” het ek saggies geprewel. “Maar hoe weet jy dit?”
“Ek kom drink dan al 5 jaar lank elke dag tee hier saam met ma. Hulle het my ‘n foto van jou gewys voor ek gekom het daardie dag. Maar ek was baie bang. En toe jy nie met my kom praat nie, toe dag ek jy het my dalk nie herken nie. En toe jy die volgende dag opdaag, toe weet ek jy weet. Maar ek was nog nie reg nie.”

Ek het stadig uit my stoel uit opgestaan. En ek het my arms uitgesteek om my kind – my liefdeskind -vir die eerste keer vas te hou.



Geskryf deur: Marista Grobler
Datum: 2017
Kopiereg voorbehou

Monday, 4 December 2017

The Storm



The storm scares me.

I hear it howling around the corner of my bedroom wall, fiercely shaking the trees from side to side. It’s so dark outside. Even the full moon hides behind the thick, black clouds. Lightning flashes in a white, ragged line, momentarily slashing the sky and horizon. I count… a thousand and one…. a thousand and two… a thousand and three… a thousand and …. the deafening crash of emboldened thunder cracks through the clouds.

4 km.

It’s probably an old wives’ tale, I didn’t investigate the claims, but it sure makes waiting for the storm more dreading, but it also tells you that the storm is passing: the counts from lightning to thunder is how far the centre of the storm is from you. Every count is 1 kilometre. And as the wind tears at the leaves of the trees, grabbing on to anything – everything - with invisible fingers that is intent on taking it all, it brings with it the eye of the storm.

Lightning. Thunder.

3 km.

The light in the hallway casts a dim, but comforting glow around the sides of my bedroom door. A window bangs shut. I must’ve missed that one. Do I get up? Or do I hope for the best? I can still hear the neighbours’ loud, irritating music thumping relentlessly to the same beat… Is it still the same song? Or do they all just really sound the same? My thoughts are interrupted by another flash of light… another crash.

2 km.

I decide to leave the window and crawl deeper into the depths of my warm, soft blanket. A gift from my grandmother when I moved into this place. When I think of my grandma, I smell cookies, cinnamon and lemon. But there is no smell tonight. Except for the smell of my own fear seething through my pores…

1km.

Suddenly it’s quiet. The monotonous beat from the neighbour is gone. Not one bird is tweeting, not one rooster crowing, not one dog barking. The trees are standing still, as the wind have pulled back and disappeared into the black sky. The ominous silence forces my head out from under the blanket. My eyes peering into my room, wanting to see something, hoping to see nothing. The curtains are lifeless, hanging from the rails. I can’t breathe.

A flash of light explodes just outside my bedroom window. And even before the light dissipates, the thunder explodes, cracking open the night sky!!

The eye.

As if it was waiting for the cue, the wind blows again. Instantly with full force, slamming my open window shut. I hear the glass shatter as it falls onto the floor. The wind is mercilessly throwing the empty window against the frame. Again. And again. And again.

I close my eyes.

And then it is over. I wait a couple of moments, holding my breath. It’s quiet. Except for the sound of dragging footsteps in the hallway. I gather my strength. And when I dare to lift my head, I can see him slumping away, blood dripping from his swinging hand onto the floor.

My blood.


The storm passed.  


Written by: Marista Grobler
Date: 2017
Copyright reserved

Thursday, 30 November 2017

Die Erf



‘n Klimraam staan verlate in die erf. Gebou in die vorm van ‘n bakkie, blou en rooi geverf – maar nog nie klaar nie – met ‘n verweerde blou, golwende glyplank wat los teenaan die klimraam leun. Gewone swart stoele wat jy altyd by funksies sien, is gebruik vir die sitplekke van die bakkie, maar net die bestuurder s’n is nog daar. ‘n Verlate, verbleikte, pap sokkerbal le vergete onder die klimraam in die erf, met ‘n stukkende, blou plastiek motorfietsie om dit geselskap te hou.

In die middel van die erf, is ‘n sandput gemaak van ‘n ou trekkerband. Die sand is hard en grof. Niemand sal nou meer in die sand kan speel nie, dit sal heeltemal uitgegrawe moet word en nuwes sal ingegooi word. Jare se reen en son het die sand tot amper sement gebak. Die swart rubber van die trekkerband, is verbleik en gekraak – fyn krakies en barsies, soos ‘n oumens se vel.

‘n Handgemaakte kaskar staan langs die sandput. Dis maar net ‘n paar los planke en nog ‘n funksie-stoel wat aanmekaar geslaan is, en ‘n ou oranje ski tou om die kaskar mee te stuur. Die tou le lusteloos tussen die wiele en rank op oor die planke, wat ook deur die wind en son en reen onherstelbaar verweer het.

Die gras is lank, welig en groen, die diepgroen van laatsomer na ‘n goeie reenseisoen. Oral is daar grassade en dandelions wat blom. Die rankplant oor die muur het al duidelik ‘n paar jaar die vryheid gehad om ongestoord, ongesny te kan groei… en dit het die geleentheid met albei hande entoesiasties aangegryp! Die Yesterday-Today-&-Tomorrow se lote beur na buite en na bo, in ‘n poging om die digte donkerte van onversorgde bos, te ontsnap. Dorings en Kakiebos het soos ongenooide gaste hulleself tuisgemaak en soos die tyd aanstap, ‘n oorlas van hulleself gemaak.

In my geestesoog kan ek vrolike kinders sien wat in die laatmiddag strale van die somerson op die klimraam in die erf speel. Ek kan hulle uitbundige gelag hoor terwyl hulle mekaar jaag om die ysterbakkie, en die bal heen en weer skop, terwyl hulle allerande nuwe maniere om die bal te skop, uitprobeer. Ek kan my verbeel hoe ‘n baba – ‘n blonde dogtertjie met seeblou ogies – in die sandput speel. En boeties wat mekaar vinnig en rof op die handgemaakte kaskar rondstoot.

Ek kan sien hoe hulle hulle koue koeldrank uit helder plastiekglasies drink, en die baba ‘n pienk tietiebottel half vol koeldrank kry. Haar neusie trek op ‘n plooi terwyl sy met ‘n skewe glimlag die koeldrank drink. Die ouer boeties wat mekaar nimmereindigend terg en tart, ‘n harde skree van frustrasie – of pyn, mens sal nooit weet nie – kloof elke nou en dan jou oordromme oop.


En op ‘n ou, staalstoel op die vervalle houtstoep, sit die oudste dogter en probeer om haar storieboek te lees. Die lawaai maak dit amper onmoontlik, maar wonderbaarlik kry sy dit reg om haar van die ergste te kan afsluit. Maar haar ma se stem kan sy nie ontsnap nie en uiteindelik moet sy opkyk vanuit die parallelle wereld van die boek na haar ma se ronde, vriendelike gesig, wat met afwagtig na haar kyk…

Die huis staan al oor die 30 jaar leeg. Niemand kon dit nog verkoop kry nie. Amper asof die huis vir sy regmatige eienaars wag. Maar vandag is hierdie huis myne.

‘n Sagte glimlag speel om my mondhoeke, terwyl ek tevrede in die bekende, verweerde staalstoel gaan sit en my boek oopmaak om te begin lees.

En in my verbeelding hoor ek nog my ma se stem.


Geskryf deur: Marista Grobler
Datum: 2017
Kopiereg voorbehou

Die Bessiebos in die hoek van ons tuin




‘n Ligte briesie waai saggies, versigtig deur die blare van die majesteuse akkerboom voor in ons erf. Die dowwe maanlig dans katvoet op die blare wat knipoog glinster. Daar is reen in die lug. Dis droog. Dis al November. Maar die vinke se nessies is hoog hierdie jaar – ‘n teken van goeie reen vir die seisoen.

Ek tuur deur die sitkamervenster na buite. My gedagtes maal nimmereindigend en deurmekaar. Ek skud later my kop - asof dit die gedagtes sal orden – en vat ‘n sluk van die koffie in my hande. Dis al koud. Ek trek my skouers op en sluk langsaam. Ek is besig om gewoond te raak aan koue koffie…
Ek knyp my oe vir ‘n paar sekondes toe. Om ‘n skietgebed op te se – ‘n skietgebed tussendeur my permanente gebede-prewel – en ‘n onwelkome traan forseer homself deur my swart, saamgeperste wimpers. Ek draai om om te gaan sit op die bank, maar ‘n beweging in die tuin vang my oog.

Dis skielik baie donker buite. Die ligte briesie het ongesiens digte reenwolke aangedra. Die blare waai kwaad in die koue wind, hulle rustige aand ongevraagd verstoor. Ek probeer konsentreer om iets te kan sien. Dit was ‘n skaduwee. Geruisloos. Vormloos. Dit het onder die blare van die bessiebos in die hoek van ons erf gaan wegkruip.

“Lafaard…” mompel ek fluisterend terwyl ek gluur na die donker gat wat die takke van die bessiebos vorm. En, net toe ek weer wou omdraai, sien ek iets glinster daar onder die bos… ‘n Koue rilling rol teen my ruggraat af. Elke haar op my lyf rys in ‘n oogwink. En my hart mis ‘n slag. Die glinster verdwyn net so vinnig as wat dit verskyn net. Maar ek bly verstar na die bos kyk, my groot donker oë nou nog groter en donkerder van vrees.

My lewe was nie maklik nie. My kinderlewe was hel en my twintigs tot sover was aaklig… maar wie s’n was nie? Ek is 28, en getroud met my tweede man. En hy haat die kinders uit my vorige huwelik. Soveel so dat hy hulle weggestuur het. En my hande was afgekap – ek kon nie vir my kinders baklei nie, ek kon hulle nie troos nie, ek kon hulle nie help nie…. Die pyn om elke oggend wakker te word, en te weet hulle is nie daar nie, omklem my hart opnuut elke dag. Elke dag ‘n bietjie stywer as die vorige dag. En ek kan voel hoe dit al swaarder word om asem te haal…

Ek het ‘n paar lafhartige selfmoordpogings deur die jare gehad. Dit was maar om aandag te kry. Nou wil ek nie selfmoord pleeg nie… ek vra dat die Dood my moet kom haal. Die hartseer is te veel om te dra. Die selfverwyt vreet my van binne af op. Die donker onbekende toekoms le onrusbarend voor my. En my moed begewe my.

Voor ek besef wat ek doen, sluit ek die voordeur oop en gaan staan buite op die stoep. Die ysige wind waai snerpend teen my kaal arms. Sy koue vingers klem om my terwyl sy treurmare deur die wapperende blare worstel. Maar ek voel nie eens die koue of die wind nie. Ek tuur na die donker, bodemlose gat onder die bessiebos in die hoek van ons tuin.

Ek weet hy is daar. Hy sien my. En hy weet ek sien hom. Ek weet nie hoe lank ek daar gestaan het nie. Maar die uitnodiging was woordeloos, verwelkomend… asof hy met benerige vingers my nader wink, terwyl ‘n skewe, skelm grynslag om sy beplooide, grys gesig speel…

Al wat ek hoef te doen, is van die stoep af loop in die rigting van die bos.

Ek is te bang om weg te kyk. Bang as wegkyk, gaan hy verdwyn. Bang as ek wegkyk, gaan hy my onverwags vang… maar ek weet dis nie waar nie. Dis nie hoe dit werk nie. Hy sal my kom haal, soos ek gevra het, maar dan ek moet na hom toe gaan.

Vir ‘n oomblik maak ek my oe toe. Ek sien my kinders se gesiggies voor my, ek hoor hulle laggies en voel hulle armpies om my nek. Die sagte asempies wat in my nek hewe, sopnat soentjies op my wang… Om dit nooit weer te voel nie, te sien nie, te hoor nie…. Die werklikheid van dit wat ek oorweeg, waarvoor ek gevra het, wurg my so skielik, so oorweldigend, dat ek snak na my asem.

Toe ek my oe weer oopmaak, en ek kyk na die pikswart gat onder die bessiebos, is hy nogsteeds daar. Nie so intimiderend soos netnou nie, meer gelate, amper verveeld. Die uitnodiging staan nog. Vir ‘n oomblik nog laat my donker, onbekende toekoms die donker bos belowend lyk… ‘n Klein straaltjie maanlig breek saggies deur die wolke en skyn liggies oor die bessiebos. Die bos se blaartjies flikker entoesiasties onder die maanlig op die ritme van die ysige wind. En my oog vang weer ‘n glinster van metaal onder die bos, en die skynsel van ‘n skaduwee wat gebukkend wag.

Ek laat sak my kop op my bors en vryf my arms vertroostend. ‘n Warm traan rol oor my wang. “Ek kan nie…” prewel ek onder my asem. En toe ek weer opkyk, is hy weg. Die donker gat onder die bessiebos in die hoek van ons tuin, is leeg.

Ek draai om en stap terug in die huis in.

My koue koffie wag vir my.


Geskryf deur: Marista Grobler  


Datum: 2017
Kopiereg voorbehou

Monday, 5 October 2015

Die Swaan

My pa het altyd gese familie is 'n goeie ding - een keer elke skrikkeljaar, op 'n foto.
Familie kan 'n seen wees. Maar dit kan net so 'n groot vloek wees. Ek het grootgeword in 'n groot familie: ons was sewe kinders. Almal redelik na aan mekaar, die grootste gaping was drie jaar. Drie seuns en vier dogters. 'n Nagmerrie vir enige ouers. Maar as die kinders almal nogal redelik geniaal is en dus baie kompeterend, kan dit nog 'n groter nagmerrie wees.

Ek was die jongste. Gebore toe my oudste broer 14 jaar oud was. Sy eerste jaar in hoerskool en dus 'n baie moeilike jaar vol aanpassings waarvan ek nog nie eens kon droom nie. Ek was ook nie beplan nie. My ma het uitgevind sy was vier weke swanger toe sy vir haar ondersoek gegaan het voor sy 'n sterilisasie wou laat doen. Ook heel toevallig uitgevind - dokters stuur nie hulle pasiente normaalweg vir sonars voor die operasie nie, veral nie omdat sy nog relatief jonk was nie. Maar om die een of ander rede het die dokter besluit om dit te laat doen. Na die tyd het hy gese hy het gevoel die baarmoeder is geswel - dit kon as gevolg van haar maandelikse vroulike funksies gewees het, maar sy instink het die oorhand bo redenasie gekry. Ook maar goed, anders was nie vandag hier nie.

Maar op skool het ek lelik afgesteek teen my broers en susters. Ek het rapporttyd met 'n passie gevrees. Hulle het met trots hulle A's en A+'e onder my ouers se neus gevryf, terwyl ek met D's rondgesukkel het. Ek was ook die laaste kleinkind en alhoewel dit oor die algemeen ook 'n spesiale plekkie vir my sou besorg het, kan ek nie onthou dat ek ooit meer as 'n hallo-drukkie gekry het nie.

My ma het my altyd getroos na so 'n familie byeenkoms. Sy het die ander kindes in die bed gestop en spesiaal by my kom sit en vir my 'n storie vertel van die lelike eendjie wat 'n swaan geword het. Ek het maar geluister - al het ek gevoel sy se maar net die woorde om my beter te laat voel. Dit is inelkgeval so 'n cliche... ek het haar vertroostinge van my rug laat afrol soos water oor 'n eend se rug.

Skool het verbygegaan. Ek het nie in die regte kringe beweeg nie - inelkgeval nie volgens my familie se standaarde nie. Maar my vriende het my aanvaar - met of sonder onderskeidings. En na skool het ons nogsteeds kontak behou. Wat meer is as wat ek van my familie kan se. My ma het my gereeld gebel. Sy wou weet hoe dit gaan by die nuwe werk, bly ek nog lekker in my woonstel, is daar iemand spesiaals in my lewe. Ek het die uitvra gelate geantwoord. Die vergelyking tussen my en die ander kinders sou seker nooit ophou nie.

My broers en susters het almal die een of ander groot pos losgeslaan. Dokters, argitekte, rekenmeesters. Ek was maar net 'n sektretaresse van 'n klein firma in die plattelandse dorpie waar ek my nessie gaan skrop het. Vele tonge het geklik agter die skuif aan, maar ek wou wegkom an die druk om te presteer, om op dieselfde vlak as my familie te leef.

En dit was op die dorpie dat ek hom ontmoet het. 'n Sterk man, 'n mooi man. Nie slim nie, maar wereldwys. Hy kon gesels tot die hane kraai - oor alles. Hy kon sy eie regmaak, die gras sny en het Saterdae voor die TV vasgenael gesit as die Springbokke op die veld draf. Maar bo dit alles, was hy lief vir my.

Om die een of ander rede het hy my interesant gevind. Hy kon ure luister na die stories wat ek vertel oor my en vriende se kaskenades op skool. Hy het gelag vir die vraestelle wat ek nie kon antwoord nie en net my naam opgeskryf he. Ons kon ure lank in die veld piekniek hou en die natuur bewonder. Geld was skraps, ons het van liefde geleef soos die ou mense se spreukwoord lui. En, dit was genoeg.

Drie jaar later is ons getroud en nog drie jaar later was daar twee kinders. My familie het hulle een keer gesien, nie veel aandag gegee nie, en verder onder mekaar gepraat oor hulle kinders se uitsonderlike wiskundige vermoens, of wetenskaplike grondslag. Ek het hulle huilend een aand na 'n byeenkoms in my man se arms finaal afgesweer. Hy het my hare gestreel en gefluister dat familie  die ou einde van die dag die anker is wat jou vashou. Ek het net gese dat hy my anker is.

Ons was dertien jaar gelukkig getroud. Ek het van my ma wat nog altyd gereeld kontak gehou het, gehoor dat elke een van hulle geskei was. Hulle kinders was bykans almal vir die een of ander terapie, sommige selfs in inrigtings vir dwelmmisbruik en alkoholisme.

Ons was diertien jaar en twee dae getroud toe die ongeluk gebeur het. Hy was in die veld waarvoor hy so lief was en 'n rinkhals het hom gespoeg. Hy het rondgeloop opsoek na water om die gif uit te spoel. Hy het nie die bakkie sien aankom nie. Hy het voor die bakkie ingestrompel en alhoewel die bakkie stadig gery het, was dit te laat. Hy is onder die wiele in en die gewig van die luukse dubbelkajuit het sy borskas gebreek. 'n Ribbebeen is deur sy hart en hy is opslag dood.

Die hele familie het opgedaag by die begrafnis. Ek kon dit nie verstaan nie. Ek het ook nie veel aandag gegee aan die simpatieke blikke en ondersteunende gemompel rondom my nie. Ek was in my ma se arms.

Na die diens en die ter aarde bestelling het ons in my huis bymekaargekom. Ek het die eetgoed op die tafels gesit en wou omdraai om die koffie en koppies te gaan haal, toe my oudste broer my aandag trek. Die hele vertrek het stil geraak.

"Sus?"
Ek het hom skrams deur die trane beloer. En weer weggekyk.
"Ons almal beny jou. Het nog altyd."
My kop het verontwaardig opgeruk. My man is dood, en hulle beny my?
Hy moes die blitse in my oe gesien het, want hy het vinnig verder gepraat.
"Jy was die enigste een wat nog altyd gelukkig was. Nie een van ons hou van werk nie. Ons is almal geskei - in die eerste plek getroud met iemand wat reg was. Nie waarvoor ons lief was nie. Ons moes presteer. Ons is mos slim."
Hy het afgekyk, grond toe.
"Jy, aan die ander kant, het jou nie aan die normes gesteur nie. Jy het ware vriende gehad en het jou lewe geniet. Jy het liefde geken en jou kinders is die gelukkigheid self."
"Maar... Maar ek was altyd eenkant gestoot en daar gelos. Julle het die aandag gekry. Julle het die geleenthede gehad. Ek was nooit goed genoeg nie."
Hy het my vinnig en skerp onderbreek.
"Nee, jy was te goed. Ons het almal geweet jy is anders as die res van ons. Jy het nog altyd iets gehad wat ons nie gehad het nie. Jy het 'n liggie gehad wat nie geblus kon word nie. Jy het uitgesien na die lewe en die liefde en het elke strooihalmpie met die grootste oorgawe aangegryp - ongeag die risiko's."
Hy het weer afgekyk.
"Dis al wat ek wou se. Ons beny jou."

My ma se snikke het die vertrek gevul en dit was my beurt om haar vas te hou.
"My kind, my kind..." het sy deur haar snikke gemompel.
"Het jy nie na my storie geluister nie? Jy was en is nog altyd die swaan onder die klomp eendjies."




Geskryf deur: Marista
Datum: Onbekend