Wednesday 7 October 2015

Om 'n man te vang



Hoe vang 'n mens 'n man?
Ek wens dit was so maklik soos visvang. Jy sit 'n wriemelende wurm aan 'n netjies geknoopte hoek en gooi die lyn in die water terwyl jy die stok styf vashou dat jy dit nie agterna gooi nie. En dan sit en wag jy vir een of ander vis met verswakte sig om te byt. En as die merker begin wip, sit jy jou brandewyn en coke inderhaas - maar versigtig - neer, gryp die stok en pluk verwoed om die hoek stewig in die arme vissie se verhemelte in te slaan. En dan katrol jy. En daar het jy jou vis!!

Manvang is eintlik amper dieselfde. Behalwe dat jy nie wil he enige vis moet byt nie. HY moet byt. Die regte een. Jy hoop  maar jou aas trek SY aandag. En dan sit jy en wag - met die brandewyn en coke om die tyd te verwyl, terwyl jy saam met jou vriendinne en hulle kerels kuier asof jy min gespin is oor jou status as enkellopend. Met 'n bietjie geluk, byt hy dalk. En dan moet jy inderhaas jou brandewyn neersit - versigtig, want as hy betyds loswriemel, gaan jy dit weer nodig kry om jou sorge te verdrink. Saam met jou vriendinne en hulle kerels, natuurlik. En dan pluk jy en bid soos 'n dominee tydens nagmaal die hoek het ingesink.

Mans sien dit natuurlik as 'n jagspel. Hulle verbeel hulle hulle is jagters en ons vroumense die bokkies wat hulle moet skiet. Duidelik is hulle nie goeie jagters nie, vir wat skiet hulle so baie mis? Hulle sien 'n bokkie en as die bokkie hulle goedkeuring wegdra, dan vertel hulle eers vir hulle jagmaatjies van die bokkie. En so tussen die dubbel brandewyn en coke deur, word daar besluit of hy nou gaan aanle en skiet en of die koeel gespaar moet word vir 'n beter bokkie. Na die derde dubbel brandewyn, word besluit om aan te le. En dan is die bokkie weg. Groener weivelde gaan soek. Met minder bome om die skoot nog makliker te maak. Dan sien die jagter weer die bokkie. Wanneer die jagter dan nou besluit om te skiet, word die brandewyn neergesit - versigtig, want as dit raak is, moet daar gevier word! Dan word daar aangele en gemik. Die bokkie staan doodstil - die jagter het al die hulp nodig wat hy kan kry. Die sneller word getrek. Mis. En die bokkie staan nogsteeds stil. Daar word weer aangele. Die sneller word weer getrek. Dis raak!! En nog 'n dubbel word gegooi om te vier. Intussen le die arme bokkie stoksielalleen  in die middel van die bos. Na die volgende brandewyn, gaan haal die jagter sy bokkie en spog oor sy goeie skiet vermoe by sy vriende. Die feit dat die bokkie ure lank moes stilstaan, ontgaan hulle heeltemal.

My aas het al vinne ontwikkel. Nie eers die blinde visse wil byt nie. En ek staan al so lank stil, ek lyk al nes die bos. Dalk moet ek my aas verander. Maar na wat? En dalk moet ek ook maar groener weivelde gaan soek. Maar waar? Mis gaan hulle mis skiet. Hier of in Timboektoe.



Geskryf deur: Marista Grobler
Datum: 1999
Kopiereg voorbehou

No comments:

Post a Comment