Thursday 30 November 2017

Die Bessiebos in die hoek van ons tuin




‘n Ligte briesie waai saggies, versigtig deur die blare van die majesteuse akkerboom voor in ons erf. Die dowwe maanlig dans katvoet op die blare wat knipoog glinster. Daar is reen in die lug. Dis droog. Dis al November. Maar die vinke se nessies is hoog hierdie jaar – ‘n teken van goeie reen vir die seisoen.

Ek tuur deur die sitkamervenster na buite. My gedagtes maal nimmereindigend en deurmekaar. Ek skud later my kop - asof dit die gedagtes sal orden – en vat ‘n sluk van die koffie in my hande. Dis al koud. Ek trek my skouers op en sluk langsaam. Ek is besig om gewoond te raak aan koue koffie…
Ek knyp my oe vir ‘n paar sekondes toe. Om ‘n skietgebed op te se – ‘n skietgebed tussendeur my permanente gebede-prewel – en ‘n onwelkome traan forseer homself deur my swart, saamgeperste wimpers. Ek draai om om te gaan sit op die bank, maar ‘n beweging in die tuin vang my oog.

Dis skielik baie donker buite. Die ligte briesie het ongesiens digte reenwolke aangedra. Die blare waai kwaad in die koue wind, hulle rustige aand ongevraagd verstoor. Ek probeer konsentreer om iets te kan sien. Dit was ‘n skaduwee. Geruisloos. Vormloos. Dit het onder die blare van die bessiebos in die hoek van ons erf gaan wegkruip.

“Lafaard…” mompel ek fluisterend terwyl ek gluur na die donker gat wat die takke van die bessiebos vorm. En, net toe ek weer wou omdraai, sien ek iets glinster daar onder die bos… ‘n Koue rilling rol teen my ruggraat af. Elke haar op my lyf rys in ‘n oogwink. En my hart mis ‘n slag. Die glinster verdwyn net so vinnig as wat dit verskyn net. Maar ek bly verstar na die bos kyk, my groot donker oë nou nog groter en donkerder van vrees.

My lewe was nie maklik nie. My kinderlewe was hel en my twintigs tot sover was aaklig… maar wie s’n was nie? Ek is 28, en getroud met my tweede man. En hy haat die kinders uit my vorige huwelik. Soveel so dat hy hulle weggestuur het. En my hande was afgekap – ek kon nie vir my kinders baklei nie, ek kon hulle nie troos nie, ek kon hulle nie help nie…. Die pyn om elke oggend wakker te word, en te weet hulle is nie daar nie, omklem my hart opnuut elke dag. Elke dag ‘n bietjie stywer as die vorige dag. En ek kan voel hoe dit al swaarder word om asem te haal…

Ek het ‘n paar lafhartige selfmoordpogings deur die jare gehad. Dit was maar om aandag te kry. Nou wil ek nie selfmoord pleeg nie… ek vra dat die Dood my moet kom haal. Die hartseer is te veel om te dra. Die selfverwyt vreet my van binne af op. Die donker onbekende toekoms le onrusbarend voor my. En my moed begewe my.

Voor ek besef wat ek doen, sluit ek die voordeur oop en gaan staan buite op die stoep. Die ysige wind waai snerpend teen my kaal arms. Sy koue vingers klem om my terwyl sy treurmare deur die wapperende blare worstel. Maar ek voel nie eens die koue of die wind nie. Ek tuur na die donker, bodemlose gat onder die bessiebos in die hoek van ons tuin.

Ek weet hy is daar. Hy sien my. En hy weet ek sien hom. Ek weet nie hoe lank ek daar gestaan het nie. Maar die uitnodiging was woordeloos, verwelkomend… asof hy met benerige vingers my nader wink, terwyl ‘n skewe, skelm grynslag om sy beplooide, grys gesig speel…

Al wat ek hoef te doen, is van die stoep af loop in die rigting van die bos.

Ek is te bang om weg te kyk. Bang as wegkyk, gaan hy verdwyn. Bang as ek wegkyk, gaan hy my onverwags vang… maar ek weet dis nie waar nie. Dis nie hoe dit werk nie. Hy sal my kom haal, soos ek gevra het, maar dan ek moet na hom toe gaan.

Vir ‘n oomblik maak ek my oe toe. Ek sien my kinders se gesiggies voor my, ek hoor hulle laggies en voel hulle armpies om my nek. Die sagte asempies wat in my nek hewe, sopnat soentjies op my wang… Om dit nooit weer te voel nie, te sien nie, te hoor nie…. Die werklikheid van dit wat ek oorweeg, waarvoor ek gevra het, wurg my so skielik, so oorweldigend, dat ek snak na my asem.

Toe ek my oe weer oopmaak, en ek kyk na die pikswart gat onder die bessiebos, is hy nogsteeds daar. Nie so intimiderend soos netnou nie, meer gelate, amper verveeld. Die uitnodiging staan nog. Vir ‘n oomblik nog laat my donker, onbekende toekoms die donker bos belowend lyk… ‘n Klein straaltjie maanlig breek saggies deur die wolke en skyn liggies oor die bessiebos. Die bos se blaartjies flikker entoesiasties onder die maanlig op die ritme van die ysige wind. En my oog vang weer ‘n glinster van metaal onder die bos, en die skynsel van ‘n skaduwee wat gebukkend wag.

Ek laat sak my kop op my bors en vryf my arms vertroostend. ‘n Warm traan rol oor my wang. “Ek kan nie…” prewel ek onder my asem. En toe ek weer opkyk, is hy weg. Die donker gat onder die bessiebos in die hoek van ons tuin, is leeg.

Ek draai om en stap terug in die huis in.

My koue koffie wag vir my.


Geskryf deur: Marista Grobler  


Datum: 2017
Kopiereg voorbehou

No comments:

Post a Comment