Thursday 30 November 2017

Die Erf



‘n Klimraam staan verlate in die erf. Gebou in die vorm van ‘n bakkie, blou en rooi geverf – maar nog nie klaar nie – met ‘n verweerde blou, golwende glyplank wat los teenaan die klimraam leun. Gewone swart stoele wat jy altyd by funksies sien, is gebruik vir die sitplekke van die bakkie, maar net die bestuurder s’n is nog daar. ‘n Verlate, verbleikte, pap sokkerbal le vergete onder die klimraam in die erf, met ‘n stukkende, blou plastiek motorfietsie om dit geselskap te hou.

In die middel van die erf, is ‘n sandput gemaak van ‘n ou trekkerband. Die sand is hard en grof. Niemand sal nou meer in die sand kan speel nie, dit sal heeltemal uitgegrawe moet word en nuwes sal ingegooi word. Jare se reen en son het die sand tot amper sement gebak. Die swart rubber van die trekkerband, is verbleik en gekraak – fyn krakies en barsies, soos ‘n oumens se vel.

‘n Handgemaakte kaskar staan langs die sandput. Dis maar net ‘n paar los planke en nog ‘n funksie-stoel wat aanmekaar geslaan is, en ‘n ou oranje ski tou om die kaskar mee te stuur. Die tou le lusteloos tussen die wiele en rank op oor die planke, wat ook deur die wind en son en reen onherstelbaar verweer het.

Die gras is lank, welig en groen, die diepgroen van laatsomer na ‘n goeie reenseisoen. Oral is daar grassade en dandelions wat blom. Die rankplant oor die muur het al duidelik ‘n paar jaar die vryheid gehad om ongestoord, ongesny te kan groei… en dit het die geleentheid met albei hande entoesiasties aangegryp! Die Yesterday-Today-&-Tomorrow se lote beur na buite en na bo, in ‘n poging om die digte donkerte van onversorgde bos, te ontsnap. Dorings en Kakiebos het soos ongenooide gaste hulleself tuisgemaak en soos die tyd aanstap, ‘n oorlas van hulleself gemaak.

In my geestesoog kan ek vrolike kinders sien wat in die laatmiddag strale van die somerson op die klimraam in die erf speel. Ek kan hulle uitbundige gelag hoor terwyl hulle mekaar jaag om die ysterbakkie, en die bal heen en weer skop, terwyl hulle allerande nuwe maniere om die bal te skop, uitprobeer. Ek kan my verbeel hoe ‘n baba – ‘n blonde dogtertjie met seeblou ogies – in die sandput speel. En boeties wat mekaar vinnig en rof op die handgemaakte kaskar rondstoot.

Ek kan sien hoe hulle hulle koue koeldrank uit helder plastiekglasies drink, en die baba ‘n pienk tietiebottel half vol koeldrank kry. Haar neusie trek op ‘n plooi terwyl sy met ‘n skewe glimlag die koeldrank drink. Die ouer boeties wat mekaar nimmereindigend terg en tart, ‘n harde skree van frustrasie – of pyn, mens sal nooit weet nie – kloof elke nou en dan jou oordromme oop.


En op ‘n ou, staalstoel op die vervalle houtstoep, sit die oudste dogter en probeer om haar storieboek te lees. Die lawaai maak dit amper onmoontlik, maar wonderbaarlik kry sy dit reg om haar van die ergste te kan afsluit. Maar haar ma se stem kan sy nie ontsnap nie en uiteindelik moet sy opkyk vanuit die parallelle wereld van die boek na haar ma se ronde, vriendelike gesig, wat met afwagtig na haar kyk…

Die huis staan al oor die 30 jaar leeg. Niemand kon dit nog verkoop kry nie. Amper asof die huis vir sy regmatige eienaars wag. Maar vandag is hierdie huis myne.

‘n Sagte glimlag speel om my mondhoeke, terwyl ek tevrede in die bekende, verweerde staalstoel gaan sit en my boek oopmaak om te begin lees.

En in my verbeelding hoor ek nog my ma se stem.


Geskryf deur: Marista Grobler
Datum: 2017
Kopiereg voorbehou

No comments:

Post a Comment