Tuesday, 23 March 2021

Buite Tyd

 


Die skraal figuur kniel voor die nuut-gekerfde eikehout dubbelbed. Lang swart hare val soos ‘n waterval oor haar rug en omvou haar skouers soos ‘n kombers. Haar lang vingers is inmekaar geweef en soos ‘n hart wat klop, pers hulle saam en ontspan, soos wat haar prewelende versoeke in ‘n onhoorbare fluisterstem afwissel met dringende pleidooie en diep dankbaarheid. Nou en dan ontsnap ‘n sagte lofgesang haar rooi lippe, en kort-kort biggel ‘n traan of twee oor haar bloesende wange.  

Elke nag kniel die skraal figuur geklee in haar lang, wit moeselin nagrok, in gebed en elke nag bid sy: “Here my God, ek dra my kinders aan U op. Ek bring voor U troon my kinders, en hulle kinders, en hulle kinders se kinders – en ek vra dat U hulle sal beskerm en sal bewaar en bo alles, dat U hulle siele sal red van die verderf…”

Om haar staan twee rye engele. Hulle verblindende wit vlerke, versier met gelouterde goud, vorm ‘n ondeurdringbare muur. Een ry engele kyk na binne, hulle hou hande vas, hulle hoofde is geboë en hulle oë gesluit terwyl hulle saam met haar bid. Die ander ry engele kyk buitentoe, hulle oë wawyd oop. Met hulle glimmende twee-snydende swaarde en groot, gloeiende skilde is hulle gereed vir oorlog.

Anette slaap rustig alleen op haar massiewe, antieke dubbelbed. Haar seuntjie, ‘n skamele 2 jaar oud, slaap in die kamer langsaan. Dis net hulle 2 in die huis. Haar man werk weg vir ‘n rukkie, maar sy is gewoond daaraan. Dis nou maar deel van sy werk, wat kan mens nou maak? Inelkgeval, daar was nog nooit voorheen insidente nie, en sy is buitendien nie bang nie. Sy is ‘n sterk vrou, groot oë, groot beenstruktuur, en alhoewel haar glimlag ‘n hele vertrek kan ophelder, kan haar tong enigiemand sny tot op die grootte wat sy hulle wil hê. Nietemin, net vir ingeval, lê daar ‘n gelaaide vuurwapen op die bedkassie.

Haar man wou hulle nie alleen los nie. Hy het gevra dat hulle saam met hom kom, maar sy het volstrek geweier. Sy is ‘n vrou in haar eie reg en ten spyte van haar ma se vele aanmanings, weier sy om “onderdanig” te wees. Bid jou aan, ‘n vrou met haar kwaliteite en ervaring sommer net so alles los  - en dit vir ‘n man!

Buitendien, wat sal haar vriendinne van haar dink? Na jare se inwurm is sy uiteindelik deel van die uitgesoekte kring dames – ‘n besonderse, invloedryke groep vrouens wat onafhanklik en met ysterhande in satyn-handskoene, hulle huishoudings rigied regeer en stuur in die rigting wat vir hulle nog meer mag en status sal verleen. Vertel die Bybel dan nie self die storie van die perfekte vrou in Spreuke 31 nie? Sy was ‘n vasvatvrou, ‘n besigheidsvrou. En inelkgeval, elke byeenkoms – of dit nou net ‘n tee-drink is, of formele funksie – word geopen en afgesluit met gebed.

‘n Geritsel in die gras laat Anette wakker skrik. ‘Dalk het ek my net verbeel,’ dink sy, en lê doodstil, haar oë wawyd oop. Nog ‘n geritsel. Nog een. Sy hou haar asem op. Die geritsel beweeg nader aan haar venster en ‘n onbekende koue vrees gly teen haar rug af. Soos digte mis sprei die vrees en verdof haar gedagtes, omklem haar hart en begin haar wurg. Sy weet sy moet bid, maar sy kan nie. Die woorde wil nie vorm nie, en haar tong is gevries.

Die gedagte aan haar seuntjie oorwin die vrees en sy seil versigtig en so saggies as wat sy kan, teen die bed af en kruip saggies oor die vloer. Maar sy verstar toe die skaduwee van ‘n man reg teen haar venster op die gordyn val. ‘n Tweede skaduwee verskyn en toe ‘n derde. Haar hele lyf ys. Sy kyk magteloos hoe hulle die venster sny en hulle hulle hande deur die gat druk en vat-vat op soek na handvatsel om die venster oop te maak.

Daar, in die middel van haar slaapkamer vloer, in haar bypassende stel egte sy slaapklere, haar stylvolle kort swart kapsel nou roekeloos verward, besef sy die werklikheid van haar situasie… Sy en haar seuntjie is weerloos, magteloos, oorgelaat aan die genade van die onbekende mans wat besig is om by haar huis in te breek. Terwyl die vrees haar keel toedruk, hoor sy ‘n sagte fluisterstem in haar kop, ‘Bid.’

Die enkele woordjie smelt ‘n stukkie van haar vrees-gevriesde lyf, en sy kyk na die wapen op die bedkassie. Sy oorweeg vir ‘n oomblik om die wapen te gaan haal, maar asof vanself draai haar lyf om en bevind sy haar op haar knieë. En asof vanself, vou haar hande saam en sy begin onhoorbaar sag onbekende woorde prewel.

Die engele in die vertrek kyk na mekaar en knik goedkeurend. Die een met sy arms om haar lyf staan stadig regop, sy hande half uitgesteek na haar toe, gereed om weer te keer as sy probeer opstaan. Maar sy bly op haar knieë. Die een wat haar hande saamgevou het, kniel steeds saam met haar, sy hande beskermend om hare. Oudergewoonte, vat die ander engele hande en vorm ‘n kring rondom haar, hulle hoofde geboë en oë gesluit terwyl hulle saam met haar bid. ‘n Tweede ry engele staan wag rondom hulle, hulle glimmende swaarde en gloeiende skilde gereed vir oorlog.

‘n Paar minute later raak die woorde in haar stil. Haar oë is steeds toe, maar dis asof ‘n lig in die kamer skyn. Skielik is die lig weg, en die vertrek voel koud en donker. Meteens onthou sy weer van die inbrekers, maar toe sy opkyk was hulle weg. Sy spring op en hardloop na haar seuntjie se kamer toe. Flitse van die afskuwelikste goed speel voor haar af. Met ‘n hart wat klop asof dit uit haar bors wil breek, ruk sy die kamerdeur oop.

Maar haar kind lê doodrustig en slaap, ongestoord en onbewus van die krises wat hom sopas afgespeel het. Sy sak inmekaar teen die deurkosyn, en trane van verligting rol vrylik oor haar wange. Sy maak haar oë toe, maar in plaas van donkerte, is dit weereens asof ‘n lig in die kamer skyn. Sy maak haar oë oop, maar dit is so donker soos tevore.

Die engele om die kind glimlag vir mekaar – hulle het dit al duisende kere gesien: die ouer wat rasend van bekommernis op hulle kind afstorm, onbewus van die teenwoordigheid van die laer engele om die kind. Hulle helder vlerke gloei verblindend en oorvleuel so dig dat jy nie eens die kindjie kan sien nie. Hulle kyk op na die gesig van die Vader en Hy knik goedkeurend.

Anette loop stadig terug na haar kamer toe. In haar kop probeer sy ontrafel en verstaan wat nounet gebeur het, maar niks maak sin nie. Sy gaan sit op haar bed wat sy by haar ma ge-erf het. Haar ma het dit by haar ma ge-erf en die weer by haar ma. Dis handgekerf uit ‘n massiewe eikehoutboom deur haar pa as ‘n trougeskenk vir haar. Sy maak haar bedkassie se laai oop en haal ‘n geel-verweerde foto daaruit. Dis ‘n foto van haar oumagrootjie en dit was in die Bybel wat sy saam met die bed ge-erf het. Die Bybel was in Hollands, so die staan op die boekrak in die eetkamer. Haar eie Bybel lê ook in die laai. Sy kan nie onthou wanneer laas sy dit gelees het nie. Haar kop sak in skaamte. Sy kyk weer na die foto, en skielik sien sy iets wat sy nog nooit voorheen gesien het nie…

Op die foto kniel haar oumagrootjie langs die einste bed, haar lang swart hare val soos ‘n waterval oor haar rug en vou soos ‘n kombers om haar skouers. Haar lang vingers is inmekaar gevleg. Maar agter haar is ‘n helder skynsel van lig. Anette het dit nog altyd net as oorblootstelling van die film afgeskryf. Maar vanaand lyk die lig op die foto anders, amper bekend. Sy bring die foto nog nader en terwyl sy dit aandagtig bestudeer, roer die herkenning in haar hart.

“Maar dis dan dieselfde lig!” roep sy verbaas uit, en haar oë rek toe sy besef wat dit werklik beteken.  

Met trane wat oor haar wange stroom, sak sy op haar knieë langs die bed neer, weef haar vingers inmekaar en gee haar oor aan die Almagtige God.

En terwyl die kamer vul met ‘n helder, warm lig, vat die engele weer hande.

No comments:

Post a Comment