Monday, 5 October 2015

Die Swaan

My pa het altyd gese familie is 'n goeie ding - een keer elke skrikkeljaar, op 'n foto.
Familie kan 'n seen wees. Maar dit kan net so 'n groot vloek wees. Ek het grootgeword in 'n groot familie: ons was sewe kinders. Almal redelik na aan mekaar, die grootste gaping was drie jaar. Drie seuns en vier dogters. 'n Nagmerrie vir enige ouers. Maar as die kinders almal nogal redelik geniaal is en dus baie kompeterend, kan dit nog 'n groter nagmerrie wees.

Ek was die jongste. Gebore toe my oudste broer 14 jaar oud was. Sy eerste jaar in hoerskool en dus 'n baie moeilike jaar vol aanpassings waarvan ek nog nie eens kon droom nie. Ek was ook nie beplan nie. My ma het uitgevind sy was vier weke swanger toe sy vir haar ondersoek gegaan het voor sy 'n sterilisasie wou laat doen. Ook heel toevallig uitgevind - dokters stuur nie hulle pasiente normaalweg vir sonars voor die operasie nie, veral nie omdat sy nog relatief jonk was nie. Maar om die een of ander rede het die dokter besluit om dit te laat doen. Na die tyd het hy gese hy het gevoel die baarmoeder is geswel - dit kon as gevolg van haar maandelikse vroulike funksies gewees het, maar sy instink het die oorhand bo redenasie gekry. Ook maar goed, anders was nie vandag hier nie.

Maar op skool het ek lelik afgesteek teen my broers en susters. Ek het rapporttyd met 'n passie gevrees. Hulle het met trots hulle A's en A+'e onder my ouers se neus gevryf, terwyl ek met D's rondgesukkel het. Ek was ook die laaste kleinkind en alhoewel dit oor die algemeen ook 'n spesiale plekkie vir my sou besorg het, kan ek nie onthou dat ek ooit meer as 'n hallo-drukkie gekry het nie.

My ma het my altyd getroos na so 'n familie byeenkoms. Sy het die ander kindes in die bed gestop en spesiaal by my kom sit en vir my 'n storie vertel van die lelike eendjie wat 'n swaan geword het. Ek het maar geluister - al het ek gevoel sy se maar net die woorde om my beter te laat voel. Dit is inelkgeval so 'n cliche... ek het haar vertroostinge van my rug laat afrol soos water oor 'n eend se rug.

Skool het verbygegaan. Ek het nie in die regte kringe beweeg nie - inelkgeval nie volgens my familie se standaarde nie. Maar my vriende het my aanvaar - met of sonder onderskeidings. En na skool het ons nogsteeds kontak behou. Wat meer is as wat ek van my familie kan se. My ma het my gereeld gebel. Sy wou weet hoe dit gaan by die nuwe werk, bly ek nog lekker in my woonstel, is daar iemand spesiaals in my lewe. Ek het die uitvra gelate geantwoord. Die vergelyking tussen my en die ander kinders sou seker nooit ophou nie.

My broers en susters het almal die een of ander groot pos losgeslaan. Dokters, argitekte, rekenmeesters. Ek was maar net 'n sektretaresse van 'n klein firma in die plattelandse dorpie waar ek my nessie gaan skrop het. Vele tonge het geklik agter die skuif aan, maar ek wou wegkom an die druk om te presteer, om op dieselfde vlak as my familie te leef.

En dit was op die dorpie dat ek hom ontmoet het. 'n Sterk man, 'n mooi man. Nie slim nie, maar wereldwys. Hy kon gesels tot die hane kraai - oor alles. Hy kon sy eie regmaak, die gras sny en het Saterdae voor die TV vasgenael gesit as die Springbokke op die veld draf. Maar bo dit alles, was hy lief vir my.

Om die een of ander rede het hy my interesant gevind. Hy kon ure luister na die stories wat ek vertel oor my en vriende se kaskenades op skool. Hy het gelag vir die vraestelle wat ek nie kon antwoord nie en net my naam opgeskryf he. Ons kon ure lank in die veld piekniek hou en die natuur bewonder. Geld was skraps, ons het van liefde geleef soos die ou mense se spreukwoord lui. En, dit was genoeg.

Drie jaar later is ons getroud en nog drie jaar later was daar twee kinders. My familie het hulle een keer gesien, nie veel aandag gegee nie, en verder onder mekaar gepraat oor hulle kinders se uitsonderlike wiskundige vermoens, of wetenskaplike grondslag. Ek het hulle huilend een aand na 'n byeenkoms in my man se arms finaal afgesweer. Hy het my hare gestreel en gefluister dat familie  die ou einde van die dag die anker is wat jou vashou. Ek het net gese dat hy my anker is.

Ons was dertien jaar gelukkig getroud. Ek het van my ma wat nog altyd gereeld kontak gehou het, gehoor dat elke een van hulle geskei was. Hulle kinders was bykans almal vir die een of ander terapie, sommige selfs in inrigtings vir dwelmmisbruik en alkoholisme.

Ons was diertien jaar en twee dae getroud toe die ongeluk gebeur het. Hy was in die veld waarvoor hy so lief was en 'n rinkhals het hom gespoeg. Hy het rondgeloop opsoek na water om die gif uit te spoel. Hy het nie die bakkie sien aankom nie. Hy het voor die bakkie ingestrompel en alhoewel die bakkie stadig gery het, was dit te laat. Hy is onder die wiele in en die gewig van die luukse dubbelkajuit het sy borskas gebreek. 'n Ribbebeen is deur sy hart en hy is opslag dood.

Die hele familie het opgedaag by die begrafnis. Ek kon dit nie verstaan nie. Ek het ook nie veel aandag gegee aan die simpatieke blikke en ondersteunende gemompel rondom my nie. Ek was in my ma se arms.

Na die diens en die ter aarde bestelling het ons in my huis bymekaargekom. Ek het die eetgoed op die tafels gesit en wou omdraai om die koffie en koppies te gaan haal, toe my oudste broer my aandag trek. Die hele vertrek het stil geraak.

"Sus?"
Ek het hom skrams deur die trane beloer. En weer weggekyk.
"Ons almal beny jou. Het nog altyd."
My kop het verontwaardig opgeruk. My man is dood, en hulle beny my?
Hy moes die blitse in my oe gesien het, want hy het vinnig verder gepraat.
"Jy was die enigste een wat nog altyd gelukkig was. Nie een van ons hou van werk nie. Ons is almal geskei - in die eerste plek getroud met iemand wat reg was. Nie waarvoor ons lief was nie. Ons moes presteer. Ons is mos slim."
Hy het afgekyk, grond toe.
"Jy, aan die ander kant, het jou nie aan die normes gesteur nie. Jy het ware vriende gehad en het jou lewe geniet. Jy het liefde geken en jou kinders is die gelukkigheid self."
"Maar... Maar ek was altyd eenkant gestoot en daar gelos. Julle het die aandag gekry. Julle het die geleenthede gehad. Ek was nooit goed genoeg nie."
Hy het my vinnig en skerp onderbreek.
"Nee, jy was te goed. Ons het almal geweet jy is anders as die res van ons. Jy het nog altyd iets gehad wat ons nie gehad het nie. Jy het 'n liggie gehad wat nie geblus kon word nie. Jy het uitgesien na die lewe en die liefde en het elke strooihalmpie met die grootste oorgawe aangegryp - ongeag die risiko's."
Hy het weer afgekyk.
"Dis al wat ek wou se. Ons beny jou."

My ma se snikke het die vertrek gevul en dit was my beurt om haar vas te hou.
"My kind, my kind..." het sy deur haar snikke gemompel.
"Het jy nie na my storie geluister nie? Jy was en is nog altyd die swaan onder die klomp eendjies."




Geskryf deur: Marista
Datum: Onbekend

No comments:

Post a Comment