Die kerslig flikker deurmekaar in die donker kamertjie, amper op die ritme van haar bewende hand terwyl sy die pen onder beheer probeer bring. Dis 'n donker nag. Nuwemaan. Ironies dat hulle dit nuwemaan noem - die donkerste verdwyning van die einde van die maan. Sy probeer haar gedagtes fokus op die brief voor haar. Hoe sê mens dit? Dis so finaal? Sê nou daar is nog 'n kans? Sê nou, ek is oorhaastig? Die kerslig flikker weer en die skadu's teen die muur dans ritmies saam. Haar pen huiwer. Die kinders begin giggel in die slaapkamer. Sy wag. Daar giggel hulle alweer! Sy stem weergalm in haar ore: "Daai kinders van jou is besig om my gek te maak!"
Doelbewus staan sy op en gaan haal die belt. Hoekom is dit so moeilik vir hulle om hulle samewerking te gee? Hoe moeilik is dit om soet te wees? Sy ken die antwoord. Jare van sielkundige manupilasie en swaarkry en Bybelversies het haar al genoeg kennis gegee om enige sielkundige of predikant aan te vat - en te wen. Maar nou moet hulle eers stil. Haar hart breek toe die houe val. Houe wat haar bewende hand toedien. Haar mond praat gevaarlik sagte woorde van waarskuwing. Die kinders - haar kinders - sluk die trane weg, sluk die huil weg, terwyl hulle haar saggies snikkend met fluisterstemmetjies antwoord.
Terug by die lessenaar tel sy die pen weer op. Die kers se vlam is skielik stil. Sy staar na die vlam, amper asof sy wysheid, insig, raad, iets soek om leiding te gee. Verdomp!! Dis 'n vlam, waarom gee dit nie die weg aan nie? Die knop in haar keel ruk haar dwalende waansin terug na die leë papier voor haar. Wil ek nog? Nee. Ek wil nie.
Ek sal nie. Ek kan nie. Ek kan nie! Ek kan nie meer nie! Die knop bars oop en 'n enkele traan biggel oor haar wang. Vies vee sy dit af, want as sy dit los, dink die ander trane dalk ook dat hulle maar uit hulle tronk kan kom. Haar brein begin weer oortyd werk. Die pro's en cons, vir die duisendste maal draai dit deur haar kop. Sy hoef nie eers meer daaraan te dink nie, dis al ingeprent van al die oor en oor probeer om daardie verdomde venster te kry nadat die deur so genadeloos, so verskriklik wreed, toegeslaan is. Maar sy kry dit nie.
Die tweede, derde, vierde traan rol teen haar wang af, oor haar neus, en dam onder die bril se raam saam. Sy sit die pen neer en vee haar bril eers droog. maar die waas wil nie verdwyn nie. Spyt kom altyd te laat, sê hulle. Hulle is verkeerd. Spyt is altyd net betyds om jou tevang voor jy gelate jou dwaasheid aanvaar. Die kers flikker weer en sy ruk uit haar beswyming uit.
Wat soek ek hier? Die vraag - retories - wag vir 'n antwoord. Sy lig weer haar pen op. Sy teken 'n hartjie. Janee, dit is wat ek soek, sug sy in die skemerlig van die dansende kers. Die blare ruis in die groot akkerboom buite die venster. Sy kyk op en kyk die duisternis in. Skielik ruk die wind die kersvlammetjie dood en sy is gehul in 'n onbekende nag. Die bang vir die donker wat wegkruip in die kind binne almal van ons, knyp skielik haar boud en sy wil net opspring.
Die vraag kom vanself: Wat kan erger wees daarbuite as wat ek het hier binne? Die knyp sluip gedwee terug na die duisternis waar dit vandaan gekom het. Sy kyk die nag aan, uitdagend, vreesloos, skielik kalm. Kom haal my, dink sy, terwyl sy wag om 'n sekel voor haar te sien.
"Kom haal my," prewel sy sag. Mens tart darem nou ook nie die noodlot nie. In haar hart begin die vrees bons, Wat as dit my hoor? Sê nou, sê nou iets gebeur regtig? Haar handpalms begin skielik sweet, die boom se blare ritsel harder en harder, haar oë soek naarstiglik deur die vae donkerte. Skielik vlieg sy uit haar stoel en pluk die gordyne toe. Maar voor die laaste entjie lap die nag kon uitsluit sien sy iets glim in die maanlig wat nie skyn nie. Haar hart ys.
Die bloed syfer weg van haar ledemate af na haar hart toe. Sy word bleek, haar pupille vergroot terwyl sy die gordyn wegtrek om te kyk na dit wat sy gesien het. Maar dit was weg. Tog, daar is iets in die tuin onder die boom... daar staan iets, so deurskynend soos die nag, so onsigbaar soos jou verbeelding, maar tog so werklik, 'n teenwoordigheid. Dit staan net daar - doodstil. En kyk na haar. Sy kyk terug.
Skielik besef sy dit wag vir haar om te kies. Sy kan kies. Sy kan gaan en dit sal haar vat. Of sy kan bly. En dit sal weggaan tot sy dit weer roep. Haar kinders se gesiggies flits deur haar brein. Die kloklaggies, die huil, die armpies wat soos bobbejaantjies om jou nek vasklou, die simpel grappies... Sy laat sak haar kop en los die gordyn. Die lap maak die venster toe en die teenwoordigheid huiwer nog 'n rukkie voor dit pad vat terug na waar dit ook al vandaan kom. "Ek wil my kinders sien grootword," prewel sy verskonend.
Stadig gaan sit sy op die stoel en bêre die pen en leë papier. Dalk moet ek net harder bid, meer liefde gee... Ek moet net harder probeer.
Sy hoor nie die voetstappe agter haar nie. Sy sien nie die skerp glim van die slagtersmes bo haar kop nie. Die skielike beweging van sy arm laat haar kop omruk net toe die lem deur nek gly.
Sy voel die warm bloed teen haar nek afloop en oor haar borste stroom, haar oë val-val toe. Sy sien sy gesig - gevoelloos, soos sy hart, sy dade, sy siel. 'n Laaste traan huiwer op haar wang. Haar kinders se gesiggies weerkaats daarin voordat in 'n duisend druppeltjies op die vloer breek. Net voor haar oë sluit, hoor sy 'n stem, veraf, maar vol gesag... "Dis nie jou tyd nie"...
Toe sy weer haar oë oopmaak lê sy in 'n spierwit kamer. Haar lyf voel anders, amper ligter, haar oë kyk maar sien nie. Sy knip-knip om die waas weg te kry. Sy draai haar kop. Sy sien die drie gesiggies wat afwagtend na haar kyk en haar mondhoeke krul op.
"Mamma!"
En in die omhelsing van bobbejaanarmpies haal sy weer skoon asem.