Saturday 18 May 2019

Liefde

Liefde is 'n saadjie wat jy plant

Jy plant dit in die grond van die hart

Jy gee dit water met soentjies en drukkies en vashou
        Jy gee dit kos met, wel... kos en koeldrank en koffie en chocolates...
               Jy beskerm dit met mure, heinings, warm klere, slotte, seatbelts en ordentlike brieke
                    Jy snoei dit met baklei - maar jy moet mooi snoei, anders maak jy dit dood
                            Jy spandeer tyd met dit, partykeer net deur naby te staan of te sit, partykeer sommer net lekker nonsens te praat, of hartsake te praat. En partykeer te luister                                                                            ... al is dit ook na stilte

Hoe meer jy sorg en aandag gee, hoe groter word jou plantjie
        En hoe groter hy word, hoe meer kan jy die skaduwee en beskerming en
              vreugde van jou handewerk geniet - die vertroue, die veiligheid,
                     die terugkry van liefde

                                     Liefde is 'n saadjie wat jy plant...

                                                                          ... in die grond van iemand anders se hart




Geskryf deur: Marista Grobler
Datum: 2012
Kopiereg voorbehou

Tuesday 7 May 2019

Weggooi-Ma



Haar oe kyk stip voor haar. Sy bring die koppie drinkgoed stadig, outomaties na haar bloedrooi, perfek omlynde lippe. Dit moet warm wees, want sy gee n fyn rukkie, haar tong streel oor haar lippe en haar oe is vir ‘n oomblik teruggeruk van waar sy ookal was. Die hande wat die koppie vashou, het al gewerk. Dit is goedversorgde hande, maar dis duidelik dat hulle gereeld skottelgoed en klere gewas het. Daar is geen ringe aan die vingers nie en daar op die linker ringvinger is nie eers ‘n verbleekte plekkie wat dalk kon aandui dat daar eens op ‘n tyd een was nie.

Sy sit die koppie op die piering neer, en klad haar lippe met die servet. Haar oe bly tuur na die vergange herinneringe wat in haar geestesoog op die muur voor haar afspeel. Daar is fyn plooitjies om haar oe en om haar mond. Sy is dalk nie oud nie, maar sy ook nie gister gebore nie. En al lyk dit nie vandag so nie, weet haar mond en haar oe hoe om die pad van ‘n lag te stap.

Ek kom elke dag na hierdie kafee toe om na haar te kom kyk. Sy kom elke dag hier iets drink. Op dieselfde tyd, winter of somer, vir die afgelope 5 jaar al. Ek beplan vakansies rondom hierdie oggend ritueel. Vir wat sal ek nou soveel moeite doen vir ‘n vreemdeling? Vra jy. Wel, die vreemdeling is my dogter. Ek het nog net nie die moed gehad om dit vir haar te se nie. Ek kry skaam omdat ek haar soveel jare gelede vir iemand anders gegee het om groot te maak. En ek vat liewer die afstand kuier in die kafee, as om haar nooit weer te sien nie.

Ek was 15. Heeltemal te jonk en heeltemal te onafhanklik vir my eie gesondheid. Die rebel van die familie, slim genoeg om met min leerwerk onderskeidings te kry, en mooi genoeg om nooit ‘n gebrek aan geselskap te he nie.

Sy naam was Jacques. En sy rollende spiere was net so aantreklik soos die sjokelade bruin oe en sonverbleikte hare wat in die wind gewaai het wanneer hy rugby speel. Hy het een middag na oefening met my begin gesels en ons geselsies het baie vinnig in fisiese gesprekke ontaard. Hy was my eerste… en ook my laaste vir baie jare daarna. Toe ek agterkom ek is swanger, moes ek my ma vertel en is onmiddelik na ‘n tehuis vir ongehude moeders gestuur en die aanneming van die kind is vinnig gereel. Vinnig en stil.

Sy is gebore op 14 Februarie. My liefdeskind. Gebore op die dag van die liefde.

Hulle het haar vinnig weggevat – ek het tot die volgende oggend in my kussing gehuil, want al wat ek wou he, is om haar net een keer te kon vashou. Hulle het gese dis beter dat ek haar nooit sien nie.
Twee dae later is ek ontslaan. Ek is in ‘n ander skool ingeskryf en het matriek klaargemaak. Daarna het  ek  weggeloop. Ek kon my ma nie in die oe kyk nie. Vir wat sy aan my gedoen het, en omdat ek dit toegelaat het.

Ek het ‘n goeie werk gekry, ‘n kerel het weer belanggestel en my lewe het uiteindelik rigting gekry. Kort voor lank was ons getroud, ek het nog twee kinders gehad en het na elke bevalling die hele nag omgehuil. My arme, dierbare man het gedink dit was van uitputting en pyn… ek het hom nooit vertel van my verlore dogtertjie nie.

Nog ‘n dekade het gekom en gegaan. En eendag sien ek ‘n advertensie in ‘n koerant van iemand wat jou help om jou kinders/ouers op te spoor. Ek het hulle gekontak en omdat my geval in erkende instansies plaasgevind het, kon hulle my dogtertjie vinnig opspoor. Hulle het haar gekontak en sy het ingestem om my te ontmoet. Ons moes 5 jaar gelede in hierdie einste kafee ontmoet het… Maar toe ek haar sien, het my moed my begewe. Hoe verduidelik ek na al die jare? Wat gaan ek doen as sy my weggooi? Ek weet ek verdien niks minder nie. Ek het stil-stil by die kafee ingesluip en by ‘n tafel gaan sit waar ek haar mooi kon dophou.

Na sowat ‘n uur se wag, het sy opgestaan en geloop. Sy was teleurgesteld, en ‘n traantjie het in haar oe geglinster. En onder haar asem het sy vir die tafel gese: ek sal terugkom tot sy kom. En sy het.
Die volgende dag toe ek by die kafee kom, was sy nie daar nie. My hart het yskoud geword toe ek gaan sit by my tafel. Ek het bly staar na die lee sitplek waar sy altyd sit. Die kelnerin het my bestelling gebring sonder dat ek daarvoor gevra het. Die koffie het koud geword. Ek het later my kop op my bors laat sak en probeer om die trane weg te steek. Het sy dan nou besluit om op te hou wag?
Skielik het ek ‘n hand op my skouer gevoel. Ek het gedag dis die kelnerin wat goedhartiglik wil weet of ek okay is. Ek het haar weggewaai sonder om te kyk.

“Ma?” Dit was sag. So verskriklik sag. Ek het eers gewag, se nou ek het my verbeel.
“Ma? Jy is mos my ma?” Ek het opgekyk in die blouste blou oe, en daar was ook trane in.
“Jy is mos my ma?” het sy weer gevra. ‘n Skielike onsekerheid het agter haar blou oe posgevat. Ek wou dit met alle mag keer.
“Ja, ja, ek is. Ek is jou ma,” het ek saggies geprewel. “Maar hoe weet jy dit?”
“Ek kom drink dan al 5 jaar lank elke dag tee hier saam met ma. Hulle het my ‘n foto van jou gewys voor ek gekom het daardie dag. Maar ek was baie bang. En toe jy nie met my kom praat nie, toe dag ek jy het my dalk nie herken nie. En toe jy die volgende dag opdaag, toe weet ek jy weet. Maar ek was nog nie reg nie.”

Ek het stadig uit my stoel uit opgestaan. En ek het my arms uitgesteek om my kind – my liefdeskind -vir die eerste keer vas te hou.



Geskryf deur: Marista Grobler
Datum: 2017
Kopiereg voorbehou