‘n Klimraam staan verlate in die erf. Gebou in die vorm van
‘n bakkie, blou en rooi geverf – maar nog nie klaar nie – met ‘n verweerde
blou, golwende glyplank wat los teenaan die klimraam leun. Gewone swart stoele
wat jy altyd by funksies sien, is gebruik vir die sitplekke van die bakkie,
maar net die bestuurder s’n is nog daar. ‘n Verlate, verbleikte, pap sokkerbal
le vergete onder die klimraam in die erf, met ‘n stukkende, blou plastiek
motorfietsie om dit geselskap te hou.
In die middel van die erf, is ‘n sandput gemaak van ‘n ou
trekkerband. Die sand is hard en grof. Niemand sal nou meer in die sand kan
speel nie, dit sal heeltemal uitgegrawe moet word en nuwes sal ingegooi word.
Jare se reen en son het die sand tot amper sement gebak. Die swart rubber van
die trekkerband, is verbleik en gekraak – fyn krakies en barsies, soos ‘n
oumens se vel.
‘n Handgemaakte kaskar staan langs die sandput. Dis maar net
‘n paar los planke en nog ‘n funksie-stoel wat aanmekaar geslaan is, en ‘n ou
oranje ski tou om die kaskar mee te stuur. Die tou le lusteloos tussen die
wiele en rank op oor die planke, wat ook deur die wind en son en reen
onherstelbaar verweer het.
Die gras is lank, welig en groen, die diepgroen van
laatsomer na ‘n goeie reenseisoen. Oral is daar grassade en dandelions wat
blom. Die rankplant oor die muur het al duidelik ‘n paar jaar die vryheid gehad
om ongestoord, ongesny te kan groei… en dit het die geleentheid met albei hande
entoesiasties aangegryp! Die Yesterday-Today-&-Tomorrow se lote beur na buite
en na bo, in ‘n poging om die digte donkerte van onversorgde bos, te ontsnap.
Dorings en Kakiebos het soos ongenooide gaste hulleself tuisgemaak en soos die
tyd aanstap, ‘n oorlas van hulleself gemaak.
In my geestesoog kan ek vrolike kinders sien wat in die
laatmiddag strale van die somerson op die klimraam in die erf speel. Ek kan
hulle uitbundige gelag hoor terwyl hulle mekaar jaag om die ysterbakkie, en die
bal heen en weer skop, terwyl hulle allerande nuwe maniere om die bal te skop,
uitprobeer. Ek kan my verbeel hoe ‘n baba – ‘n blonde dogtertjie met seeblou
ogies – in die sandput speel. En boeties wat mekaar vinnig en rof op die
handgemaakte kaskar rondstoot.
Ek kan sien hoe hulle hulle koue koeldrank uit helder
plastiekglasies drink, en die baba ‘n pienk tietiebottel half vol koeldrank
kry. Haar neusie trek op ‘n plooi terwyl sy met ‘n skewe glimlag die koeldrank
drink. Die ouer boeties wat mekaar nimmereindigend terg en tart, ‘n harde skree
van frustrasie – of pyn, mens sal nooit weet nie – kloof elke nou en dan jou
oordromme oop.
En op ‘n ou, staalstoel op die vervalle houtstoep, sit die
oudste dogter en probeer om haar storieboek te lees. Die lawaai maak dit amper
onmoontlik, maar wonderbaarlik kry sy dit reg om haar van die ergste te kan
afsluit. Maar haar ma se stem kan sy nie ontsnap nie en uiteindelik moet sy
opkyk vanuit die parallelle wereld van die boek na haar ma se ronde,
vriendelike gesig, wat met afwagtig na haar kyk…
Die huis staan al oor die 30 jaar leeg. Niemand kon dit nog
verkoop kry nie. Amper asof die huis vir sy regmatige eienaars wag. Maar vandag
is hierdie huis myne.
‘n Sagte glimlag speel om my mondhoeke, terwyl ek tevrede in
die bekende, verweerde staalstoel gaan sit en my boek oopmaak om te begin lees.
En in my verbeelding hoor ek nog my ma se stem.
Geskryf deur: Marista Grobler
Datum: 2017
Kopiereg voorbehou
Kopiereg voorbehou