Na vandag gaan dit te laat wees
vir my om terug te kyk en te wens dit was anders. Vandag is die laaste stap in
die deurvoering van die besluit wat ek amper ses maande gelede geneem het. Om
te skei van die man met wie ek die afgelope 23 jaar ‘n geleende bed deel.
Ek kyk in die spiel en sien ‘n
vrou wat goed lyk vir haar jare. ‘n Eienskap wat ek van my ma gekry het. Een
van die vele wat sy uit haar liefde aan my oorgedra het. En ek verbeel my ek sien
hom in die gang agter my verbyloop. Ek vlieg om – maar daar is natuurlik niks.
Net soos daar gister en eergister en die dag tevore ook niks was nie. Jare se
gewoonte lewe eis sy tol.
Ons huwelik was maar altyd een van
flardes geluk. Saamgeweef deur ‘n liefde wat in elk geval meer onwaarskynlik as
vatbaar kon wees, en bymekaar gehou deur hierdie band asook die band wat twee
kinders tussen mense smee. Jonk en naïef het ek geglo dis suiwer liefde. Nou
weet ek dit was 10% liefde en 90% deursettingsvermoë. Van ons albei se kant af.
Ses maande terug had ek besluit
dis nou genoeg. Ek is nie meer lus om te werk aan my geluk nie, ek was net nie
meer lus nie. In 23 jaar word daar baie dinge gesê, gesnou, vergewe en onthou.
23 jaar. Dis ‘n leeftyd.
Nee. Dis nie die gedagtes waarmee ‘n
mens ‘n dag soos hierdie moet begin nie. Nostalgie is iets waarmee Hollywood
geld maak. Dit bring nie geluk nie. Dit kleur die werklike herinneringe net ‘n
sagte, wasige pienk, terwyl die werklikheid nog net so grou daaronder skuil.
Ek staan op en kry my karsleutels.
My afspraak in die hof is vroeg: 9:00 die oggend. Hierdie oggend. Oor ‘n
halfuur moet ek my liefde vir die man wat 23 jaar lank al sukkel om op te
staan, afsweer en verraai – soos ‘n Judas, of nog erger: ‘n Petrus.
Hy het niks gesê toe ek hom meedeel
van my planne om hom te verlaat nie. Hy het opgekyk en weer afgekyk. Ek het my
hande in die lug gegooi van frustrasie. As hy tog maar net iets wou sê! Wou
doen. Wát, gee ek nie voor om nie. Enigiets is beter as hierdie still
aanvaarding van die noodlot. Maar net voor ek verwoed omdraai om die alewige
skottelgoed te gaan was, merk my oog iets anders aan die man wat daar sit. Sy
trotse skouers hang tog skielik ‘n bietjie en ‘n blink spoor hardloop van sy
oog na sy ken. Maar sy lippe het geslote gebly. Geslote soos die NG kerk se
raadsvergaderings en die regering se koskas. Ek het omgedraai en die
skottelgoed gaan was.
By die hof soek ek so na as
moontlik stilhouplek. Hy is alreeds daar. Netjies, soos altyd, en hy het so ewe
vir my ‘n plekkie gehou naby die deur. En terwyl ek nader ry en ek hom so sien:
onafhanklik, manlik en trots, kry ek ‘n knop in my keel. Maar ek sluk maar
vinnig en bid die kalmeerpil begin werk voor di tons beurt voor die regter is.
En toe dit ons beurt voor die
regter is, kon ek nie die woorde uitkry nie. Ek kon nie my liefde – ons liefde –
verloën nie. Die flardes geluk het my dagboek volgemaak, en die onwaarskynlike
liefde was daar, nog net so sterk soos toe ons destyds moes trou. Ek het van
die getuiebank afgeklim, ‘n verskoning gemompel en die hof so vinnig my twee bene
my kon dra, verlaat.
Toe ek buite kom en die son teen
my gesig voel, haal ek vir die eerste keer asem. En hy was daar. Hy het gewag
vir my, en ten spyte van alles, was sy arms oop om my te ontvang. Hy het my vasgehou
asof hy my nooit weer wou los nie, my nooit weer sou toelaat om te gaan nie, en
die blink spore op sy wange was genoeg woorde vir my.